Is jy tussen die boom en die bas met jou buurman se bome?

prevance.png

Jou buurman het ‘n paar jaar gelede ‘n ry bome teen julle skeidingsmuur geplant. Nou is die bome groot en takke en blare val gereeld in jou swembad en laat jou reënwaterdreinering opdam. Verder begin die wortels nie net julle skeidingsmuur lig nie maar ook die plaveisel rondom jou swembad. Wat staan jou te doen? Moet jy maar self inspring en die wortels begin verwyder voordat jou swembad ook skade kry?

Dit is ‘n algemene beginsel in ons reg dat ‘n grondeienaar (of regmatige bewoner van die grond) geregtig is om daardie eiendom te gebruik en te geniet met voorbehoud dat sodanige gebruik en genot nie onnodige of onredelike skade of ongemak vir jou buurman moet veroorsaak nie.

‘n Eienaar kan dus bome op sy eiendom plant, maar as algemene reël mag daardie bome nie inmeng met die buurman se gebruik en genot van sy eiendom of vir hom skade veroorsaak nie. Wanneer ‘n eienaar bome plant naby ‘n skeidingsmuur is daar dus ‘n plig op hom om te verseker dat die boom onderhou word sodat dit nie ‘n oorlas word of skade vir sy buurman veroorsaak nie.

Wanneer dit kom by bome en die skade wat daardeur veroorsaak kan word is daar drie hoof groepe waarna gekyk word:

Die eerste hiervan sal wees waar takke oorhang vanaf die aangrensende eiendom. In hierdie geval is die eienaar wat daardeur benadeel word geregtig om die buureienaar te versoek om die takke te verwyder. Sou die buureienaar nie reageer op sy versoek binne ‘n redelike tyd nie, sal die benadeelde eienaar geregtig wees om ‘n verwyderingsbevel aan te vra of die takke self te verwyder en die koste daarvan van die buureienaar te verhaal. Die benadeelde eienaar is egter nie geregtig om hierdie takke vir homself te hou nie behalwe met die toestemming van sy buurman of indien sy buurman versuim om die takke self te verwyder. Die benadeelde eienaar kan ook saam met die verwydersingbevel vra vir ‘n bevel vir die verywdering van toekomstige oorhangende takke.

Die tweede sal wees in die geval van blare of vrugte van bome op die aangresende eiendom wat afval en in die dreineringsisteme van ‘n eienaar beland of sy swembad besoedel. In hierdie geval sal ‘n eienaar gewoonlik nie daartoe geregtig wees om te verwag dat sy buurman sodanige vrugte of blare moet verwyder nie. Die rede hiervoor is dat die plant van bome en die gepaargaande afval van vrugte en blare gesien word as die normale gebruik van eiendom en dat skade wat veroorsaak word deur die verstopping van dreine en pompe nie geëis kan word nie siende dat ons howe van mening is dat hierdie tipe skade vermy kan word deur die gereelde skoonmaak daarvan deur ‘n eienaar.

Die derde groep is waar wortels van ‘n aangrensende eiendom se bome skade veroorsaak aan ‘n skeidingsmuur, plaveisel of selfs die aangrensende eiendom se fondamente. In die geval van wortels, kan die eienaar self die wortels afkap en as die stap onsuksesvol is kan hy die hof nader en vra dat sy buurman die boom moet verwyder en ‘n vergoedingsbevel vir skade gely aanvra.

Ons howe is dit eens dat die toets wat toegepas moet word om vas te stel of bome ‘n oorlas is en skade veroorsaak, die objektiewe redelikheidstoets is. Die toets vereis die opweeg van die belange van beide partye in die lig van die omringende omstandighede. Daar sal altyd gekyk word na die een party se plig om tot ‘n redelike mate die oorlas te verdra en die ander party se reg tot die redelike gebruik en genot van sy eiendom.

Dit is so dat wanneer dit by jou bure kom ‘n mens nie op tone wil trap nie, maar dit is belangrik dat in gedagte gehou word dat ‘n eienaar geregtig is om sy eiendom te gebruik en te geniet sonder om die heeltyd verplig te moet wees om vir skade te betaal wat veroorsaak word deur jou buurman se dade. Die beste raad is altyd om sulke probleme op ‘n hoflike manier met jou buurman te probeer oplos, maar as daar geen ander oplossing gevind kan word nie is dit belangrik om te weet dat jy wel regte het wat beskerm en afgedwing kan word.